Prospektus

INLEIDING 

 

Doel van die skool 

 

Laerskool Randhart het ten doel die ontwikkeling van die totale leerder tot eer van God op alle lewensterreine, onder andere, die godsdienstige, sedelike, verstandelike, estetiese, sosiale en fisiese. 

 

Ontstaan 

 

Op 8 Januarie 1973 is die Randhart Primêre Skool nie-amptelik in gebruik geneem.  Op 22 Februarie 1974 is die amptelike ingebruikneming van die skool deur Dr. A. L. Kotzé, die destydse Direkteur van Onderwys, Transvaal, waargeneem. 

 

Skoolwapen en leuse 

 

Die wapen stel die "Drie Eenheid" voor.  Elke punt simboliseer die volgende:  Glo in God, jouself en jou land.  Die kol in die middel stel die kerngedagte van geloof voor wat die skool as Christelike inrigting aan sy leerders moet oordra. 

 

Leuse : Ons glo 

 

Missie 

 

Die voorsiening van voorgeskrewe totaliteitsopvoeding aan die leerders wat tot maksimum individuele potensiaalverwesenliking sal lei. 

 

Vereistes 

 

  • Enige leerder wat bereid is om onderrig te word in Afrikaans as voertaal word tot die skool toegelaat. 
  • Die Christelike karakter van die skool moet onderskryf word. 
  • Die Afrikaanse karakter (taal en gebruik) van die skool moet uitgeleef word. 
  • Daar moet aktief en gebalanseerd aan die skoolbedrywighede deelgeneem word. 
  • Skooleiendom, toerusting en boeke moet met groot sorg hanteer en opgepas word. 
  • Die dissiplinêre- en gedragskode van die skool moet onderskryf word. 
  • Die ouderdom van die leerder mag nie meer as drie ouderdomsjare van die gemiddelde graadouderdom afwyk nie. 
  • Voorgeskrewe skoolgelde moet stiptelik betaal word. 
  • Registrasie by toelating is verpligtend vir alle leerders. 
  • 'n Gesertifiseerde afskrif van 'n leerder se geboortesertifikaat en kliniekkaart moet tydens registrasie ingehandig word. 

 

Skoolpligtigheid 

 

'n Leerder is skoolpligtig die jaar waarin hy/sy sewe (7) word.  Leerders wat voor einde Junie ses (6) word, word ook toegelaat. 

 

 

 

AKADEMIE 

 

Die kurrikulumbeleid soos deur die Departement van Onderwys vasgestel, word geïmplimenteer.  Dit impliseer ook dat assessering deurlopend geskied, sodat leerders se vordering gemonitor kan word, probleme vroegtydig geïdentifiseer kan word en hulpverlening kan plaasvind. 

 

Grondslagfase 

 

Graad 1 - 3 staan bekend as die grondslagfase en omdat hierdie fase van kardinale belang is in die vaslegging van belangrike basiese vaardighede, word klasgroottes beperk sodat kwaliteit onderrig kan plaasvind. 

 

Gedurende Augustus word 'n opedag vir die nuwe graad 1-leerders gehou.  Die ouers en voornemende leerders kry die geleentheid om die skool te besoek waar daar interessante gesprekvoering tussen die departementshoof, graad 1-onderwyseresse en die ouers plaasvind.  Die voornemende leerders word ook tydens die geleentheid getrakteer en almal kry die geleentheid om mekaar beter te leer ken.  Gewoonlik is al die voornemende graad eentjies baie gretig om na dié lekker dag "groot" skool toe te kom. 

 

Intermediêre- en seniorfase 

 

Graad 4 - 6 staan bekend as die intermediêrefase en graad 7 as die seniorfase.  Leerders word onderrig in die volgende nege leerareas:  Wiskunde, Afrikaans, Engels, Sosiale Wetenskappe, Natuurwetenskappe, Ekonomiese en Bestuurswetenskappe, Lewensoriëntering, Kuns en Kultuur asook Tegnologie. 

 

Vorderingsverslae 

 

Leerders ontvang 'n vorderingsverslag op die laaste dag van elke kwartaal. 

 

Akademiese toppresteerders 

 

Die top vyf leerders in elke klas word op die laaste dag van elke kwartaal aangekondig sowel as die top 10 in elke graad. 

 

Oueraande 

 

Oueraande vind plaas elke eerste Maandagaand van 'n nuwe skoolkwartaal vanaf 16:30 tot 19:00 

 

KDA - "Kids Development Academy" 

 

KDA is 'n holistiese program wat fokus op die fisieke, sosiale en emosionele potensiaal van die leerder. Hierdie program help om die hele brein ten volle te ontwikkel.  Daar kan reeds op 'n vroeë stadium ook vasgestel word in watter sportsoort(e) die leerder 'n aanleg het. 

 

Grondslagfase sowel as intermediêre- en seniorfase leerders volg die KDA-program wat ondersteuning bied aan leerders om hul volle potensiaal te bereik. 

 

In al drie die fases omvat hierdie program die aspekte rakende leeruitkoms 4 van Lewensoriëntering en leerders word dus ook geassesseer. 

 

'n Onderwyser is spesifiek vir hierdie taak opgelei en behartig alle leerders van graad 1 - 7. 

 

Rekenaarsentrum 

 

Ons rekenaarsentrum is reeds vanaf 1993 in bedryf en alle leerders van graad 1 - 7 besoek die sentrum een keer per week as deel van hul akademiese onderrig. 

 

"Gauteng on Line" 

 

'n Splinternuwe rekenaarsentrum met internetfasiliteite is einde 2003 in gebruik geneem. 

 

Leeskursusse 

 

Betaalde leeskursusse word gedurende skoolure aangebied om leerders met leesprobleme van hulp te wees. 

 

Mediasentrum 

 

Ons mediasentrum, wat toegerus is met die nuutste hulpmiddels, voorsien in alle mediabehoeftes van die leerders sowel as die onderwysers.  Die sentrum word voltyds bestuur. 

 

Entrepreneursdae 

 

Leerders van graad 4 - 7 kry gedurende die jaar die geleentheid om die kennis wat hulle verwerf het in Ekonomiese en Bestuurswetenskappe toe te pas deur deel te neem aan entrepreneursdae. 

 

Breinboelies Verrykingsentrum 

 

By Laerskool Randhart streef ons na akademiese uitnemendheid.  Ons glo aan gedifferensieerde ontwikkeling van elke leerder, sodat hulle tot hul volle potensiaal kan ontwikkel.  Leerders wat op akademiese gebied presteer, word blootgestel aan meer as net dit wat die onderrig- en leersituasie in die klaskamer bied. 

 

Die top dertig leerders in elke graad van graad 4 - 7 word kwartaalliks uitgenooi om die verrykingsentrum by te woon op Dinsdagaande 18:00 - 20:00 

 

Die verrykingsentrumklasse word deur kenners aangebied en vakke soos Fisiologie, Plantkunde, Chemie, Geografie, ensovoorts vorm deel van die kurrikulum. 

 

Hulpsentrum 

 

Ons hulpsentrum word beman deur 'n span uiters professionele terapeute om leerders, sowel as die onderwysers van hierdie leerders, by te staan indien probleme ontstaan.  Leerders kan gedurende skoolure van raad en hulp bedien word deur die volgende terapeute: 

 

  • Opvoedkundige sielkundige 
  • Arbeidsterapeut 
  • Spraakterapeut 
  • Remediërde terapeut 
  • Neuroterapeut 

 

SPORT 

 

Laerskool Randhart is in die bevoorregte posisie om jaarliks aan die Noordelike Bonde Super 12-kompetisie deel te neem.  Die 24 beste skole in die streek van die Goue Leeus, Blou Bulle, Pumas, Valke, Luiperds en die Limpopostreek neem aan hierdie gewilde reeks deel.  Die volgende sportsoorte word aan hierdie strawwe kompetisie blootgestel, naamlik rugby, netbal, tennis, hokkie, landloop, krieket, atletiek, skaak en gholf. 

 

Foto's van leerders wat streek- en provinsiale kleure ontvang in sportsoorte wat deur die skool aangebied word, word aangebring op foto- en ereborde in die skoolsaal. 

 

Ons skool beskik oor 'n voltydse sportbestuurder. 

 

Atletiek 

 

Ons atletiekbaan beskik oor al die nodige fasiliteite.  'n Massa byeenkoms word gedurende Oktober gehou waar alle leerders die geleentheid kry om deel te neem.  Dit word opgevolg met die interhuis in Januarie waar die skoolspan gefinaliseer word. Tuisbyeenkomste word onder spreiligte aangebied.  

 

Landloop 

 

Die landloopseisoen strek vanaf Julie tot September.  Hier word massa deelname ook bevorder.  Leerders ding mee vanaf 0/9 tot 0/13, met afstande wat wissel van twee tot vier kilometer. 

 

Netbal 

 

Die skool beskik oor vyf weervaste netbalbane.  Netbal word gedurende die tweede kwartaal aangebied. 

 

Krieket 

 

Die skool beskik oor twee turfkrieketblaaie en vyf oefennette.  'n 0/10A- en 0/11A-span asook 'n eerste en tweede span neem aan ligabepalings deel.  'n Suid-Oosrand 0/11, 0/12 en 0/13-span word jaarliks gekies om in Maart en Oktober aan streekstoernooie deel te neem.  Die 0/9-span neem aan vriendskaplike toernooie deel. 

 

Tennis 

 

Jaarliks word seuns en dogters tennisspanne vir die liga ingeskryf.  Die skool beskik oor drie tennisbane.  'n Professionele afrigter bied groep- en individuele afrigting teen vergoeding aan. 

 

Rugby 

 

By Laerskool Randhart beskik ons oor twee rugbyvelde met ruim pawiljoene.  Rugby word vanaf 0/8 beoefen.  Daar is tans tien spanne wat geaffilieer is en aan ligawedstryde deelneem.  Die 0/7-seuns word in die tweede en derde kwartaal betrek by mini-wedstryde en vaardigheidsoefeninge. 

 

Hokkie 

 

Hokkie word aangebied vir 0/10 tot 0/13-dogters gedurende die derde kwartaal.  Hulle neem deel aan die Albertonliga.  Graad 5 tot 7 seuns speel ook in die ligahokkie. 

 

Skaak 

 

Die skool beskik oor sterk skaakspelers wat die skool verteenwoordig in ligabyeenkomste, asook die Noordelike Bonde Super 12-toernooi. 

 

Gholf en perdry 

 

Bogenoemde is erkende sportsoorte wat privaat hanteer word. 

 

Massa deelname 

 

'n Massa geleentheid word voor die aanvang van elke sportsoort gereël om aan alle leerders die geleentheid te gee om 'n ligaspan te probeer haal. 

 

KULTUUR 

 

Kultuurweek 

 

'n Kultuurweek, waar verskeie kultuuraktiwiteite aandag geniet, word jaarliks gehou.  'n Volledige program met gaskunstenaars word vir elke dag beplan. 

 

Kunswedstryd 

 

Laerskool Randhart neem gereeld aan die plaaslike kunswedstryd deel.  Tydens die kunswedstryd word die toegelate aantal leerders per item ingeskryf.  Leerders word ook toegelaat om privaat in te skryf. 

 

Konsert/Revue/Operette 

 

Wanneer bogenoemde aangebied word, word daar gepoog om soveel moontlik leerders van die skool die geleentheid te gee om deel te neem. 

 

Kore 

 

Laerskool Randhart spog jaarliks met twee kore, naamlik die Kiewiete (junior koor) en RandRefrein (senior koor).  'n Hoë standaard word gehandhaaf en ons kore vaar uitstekend in die Super 12-kompetisie.  Beide kore oefen weekliks en tree gereeld by skoolfunksies en ander geleenthede op. 

 

Redenaars 

 

Gedurende Januarie en Februarie word daar 'n kort redenaarskursus aangebied vir leerders vanaf graad 1 tot 7.  Nuwe leerders word dan touwys gemaak in hierdie kuns.  Gedurende Februarie bied ons 'n interne skool redenaarskompetisie aan.  Die leerders ding mee om wisseltrofeë.  Leerders word jaarliks gekies om aan die ATKV-redenaarskompetisie deel te neem.  Ons redenaars neem ook aan die Alberton se Laerskole Redenaarsfees deel en aan die Noordelike Bonde Super 12-kompetisie.  Ons skool spog ook jaarliks met 'n span (vier graad 7-leerders wat deelneem aan die Super 12-kompetisie, sowel as die Suid-Gauteng spanredenaars. 

 

Bybelvasvra 

 

Laerskool Randhart neem jaarliks deel aan die Nasionale Bybelvasvrakompetisie wat deur die ATKV gereël word.  Ons skool word verteenwoordig deur drie spanne.  Daar word ook op Super 12-vlak meegeding. 

 

Kunskompetisie 

 

Daar word jaarliks deelgeneem aan die skolekunskompetisie.  Uitstaande kunswerke van die leerders word in ons kunsgallery opgeneem. 

 

Spreekkoor 

 

Sowat sestig leerders word jaarliks in die spreekkoor opgeneem om aan die kunswedstryd deel te neem. 

 

VCSV 

 

Genoegsame tyd word elke week afgestaan waartydens talle leerders en onderwysers meelewend deelneem.  Kampe vind jaarliks plaas. 

Algemene kennis

Leerders neem jaarliks aan die Super 12-kompetisie deel

TERREIN, FASILITEITE EN DIENSTE

Fasiliteite

Die skool beskik oor pragtige sportfasiliteite.  Spreiligte op ons sportgronde bring mee dat sportbyeenkomste en ander funksies op Vrydagaande aangebied kan word.  Alle sportsoorte word op die terrein beoefen.

Addisionele sportfasiliteite

Die skool beskik oor skrum-, tennis- krieketboul- en lynstaanmasjiene.

Deon van Zyl Lapa

Die skool spog met 'n pragtige lapa waar funksies aangebied word.

Die Afdak

Hierdie is 'n groot onderdakruimte wat gebruik word vir netbal op reënerige dae.  Sosiale funksies vir ouers en onderwysers vind ook hier plaas.

Snoepwinkel

Die snoepwinkel voorsien ons leerders elke pouse van snoepgoed en daagliks word daar ook gesonde kos verskaf.  Die skool se KDA-atletiekdrag, sweetpak, wintersbaadjie en das word ook deur die snoepwinkel aan u voorsien.

Klerebank

Dinsdae en Donderdae vanaf 13:10 tot 13:40 kan daar by ons klerebank klere aangekoop of geruil word.

Naskoolsentrum

Die skool beskik oor 'n geprivatiseerde naskoolsentrum waar leerders onder toesig hulle huiswerk kan doen en aan naskoolse aktiwiteite deelneem.  Toesig word vanaf na skool tot ongeveer 17:30 gehou.

Verkeershulp

Vir die veiligheid van leerders voorsien die stadsraad verkeershulp, terwyl die skool ook 'n volledige skolierpatrolliediens verskaf.

Koerant

Die skool publiseer 'n fotoblad aan die einde van elke jaar.

Nuusbriewe

Nuusbriewe met belangrike inligting word gereeld deurgegee.

Voedingskema

Daar word pouses aan leerders, wat nie in staat is om kos skool toe te bring nie, broodjies verskaf.  Hierdie saak word met groot omsigtigheid hanteer.

Huiswerkboek

'n Huiswerkboek word jaarliks aan leerders voorsien teen 'n minimale bedrag en moet te alle tye in leerders se besit wees.  Die skoolreëls word onder andere breedvoerig hierin uiteengesit.

Pre-primêr

Hierdie afdeling staan bekend as die Randhart Rakkertjies Privaatskool.  Voorkeur word verleen aan leerders wat in die volgende jaar skoolpligtig sal wees.  Die klasse word volgens dieselfde ure as dié van die grade bedryf, naamlik 07:40 tot 13:10.  Die skool is heeltemal privaat met sy eie lokale en kleedkamers.

SKOOLREëLS

Skooldrag - Seuns

Somersdrag:

Vanaf 1 September tot 30 April, tensy anders afgekondig.

  • Grys kortbroek, blou kortmouhemp met skoolwapen op sak en grys kniekouse met rooi strepie.
  • Donkerblou skooltrui met rooi strepie om hals of winterbaadjie indien nodig.

Wintersdrag:

Vanaf 1 Mei tot 31 Augustus, tensy anders afgekondig.

  • Grys langbroek met swart belt (gewone silwer gespe), blou langmouhemp met wapen, skooldas en grys kouse.
  • Donkerblou skooltrui of wintersbaadjie.
  • Geen gekleurde truie, windjakkers of sweetpakbaadjie nie.

Skoene

  • Slegs swart toerygskoene sonder dik sole (nie Dr. Martens nie).
  • Kaalvoet is in die somer toelaatbaar.

Hare

  • Te alle tye skoon en netjies.
  • Die hare mag nie aan die agterkant van die kop (onder) dikker of langer as 1 cm wees nie.
  • Hare mag nie agter tot teen die hempskraag strek nie.
  • Hare mag nie gekleur, gebleik of permanent gegolf word nie.
  • Hare mag nie gejel word nie.
  • Indien 'n kuif afgetrek word, mag die hare nie aan die wenkbroue raak nie.
  • Geen vreemde haarstyle, byvoorbeeld "steps" en "undercuts" nie.

Algemeen

  • Leerders se naels moet skoon, kort en netjies wees.
  • Geen juwele of kettings nie.  Slegs 'n horlosie en "SOS"- tekens is toelaatbaar.
  • Skoolklere moet heel, netjies, skoon en duidelik gemerk wees.
  • Geen LO-klere mag onder skoolklere gedra word nie.
  • Geen tatoeërmerke, tydelik of permanent, word toegelaat nie.

Skooldrag - Dogters

Somersdrag

Vanaf 1 September tot 30 April, tensy anders afgekondig.

  • Blou geruite rok met gordel en wit sokkies.
  • Donkerblou skooltrui met rooi strepie om hals of wintersbaadjie indien nodig.
  • Lengte van skoolrok:  10cm vanaf vloer, gemeet in 'n knielende houding.
  • Nie wit "secret socks" nie.

Wintersdrag

Vanaf 1 Mei tot 31 Augustus, tensy anders afgekondig.

  • Blou langmou hemp met skooldas.
  • Graad 1 tot 7, grys langbroek met swart belt (gewone silwer gespe).
  • Grys kouse of sokkies.
  • Kort wit sokkies mag slegs by somersdrag gedra word.
  • Donkerblou skooltrui of wintersbaadjie.
  • Geen gekleurde truie, windjakkers of sweetpakbaadjies nie.

Skoene

Plat swart gespe-skoene (bandjie oor brug), verkieslik sonder patrone, toerygskoene, geen "dik sole".

Kaalvoet is in die somer toelaatbaar.

Hare

  • Te alle tye skoon en netjies.
  • Sodra die hare oor die hempskraag hang of langer as die bo-punt van die skouer teen die nek is, moet dit vasgemaak word.
  • Hare mag nie gekleur, getint of permanent gegolf word nie.
  • Geen vreemde haarstyle nie, byvoorbeeld "stertjies" by kort hare word nie toegelaat nie.
  • Geen jel of ander haarstileringsprodukte mag gebruik word nie
  • Geen kuiwe mag aan die wenkbroue raak nie.
  • Kuiwe mag ook nie terugekam word nie.
  • Slegs rooi of donkerblou linte of vasmaakmiddels, asook silwerkleurige en rooi/blou mag in die hare gedra word.  Ander haarvasmaakmiddels moet liefs naweke gedra word.

Naels

  • Moet kort, netjies en skoon wees.
  • Kleurlose naellak mag gebruik word.

Juwele

  • Slegs een seëlring is toelaatbaar.
  • Geen ander juwele, hangertjies, kettings of armbande nie.
  • 'n Horlosie en "SOS"-teken is toelaatbaar.
  • Slegs een stel oorbelle mag gedra word, net "studs" sonder steentjies of klein ronde ringetjies sonder 'n "aanhangsel" daaraan.

Algemeen

  • Alle leerders se skoolklere moet netjies, heel, skoon en duidelik gemerk wees.
  • Geen grimering word toegelaat nie.
  • Geen LO-klere (of "ski-pants") mag onder skoolklere gedra word nie.
  • Geen tatoeërmerke, tydelik of permanent, word toegelaat nie.

Vir seuns en dogters: 

Geen versierings of ander wapens as die goedgekeurde balkies mag aan skoolklere gespeld word nie.

Leweransiers

Die leweransiers van Laerskool Randhart se skoolklere is Select Centre, slegs 100 meter vanaf die skool asook Bracken Shoe Centre in Hennie Albertslaan, Brackenhurst.

KDA- en atletiekdrag

Somer

  • Kort navy broekie met gholfhempie (navy en rooi) en kaalvoet.
  • KDA-atletiekdrag is by die snoepwinkel beskikbaar.

Winter

  • Skoolsweetpak met skoolskoene en kouse.
  • Tekkies word saamgebring skool toe en word aangetrek as dit KDA-periode is.

Tasse en handboeke

  • Geen gekleurde seil- of sportsakke mag vir die dra van boeke gebruik word nie.
  • Stewige tasse met permanente afskortings word aanbeveel.  Klein tassies (plastiek) is toelaatbaar tydens eksamens.
  • Sportsakke word slegs vir sport en LO gebruik.
  • Tasse en sporttoerusting moet gemerk word.
  • Alle handboeke moet ten minste met plastiek oorgetrek en versterk word met karton aan die binnekant van die buiteblad.
  • Ouers moet die koste dra van handboeke en mediaboeke wat verlore raak of erg verniel is.

Verlore goedere

  • Tydens skoolure word alle verlore goedere (byvoorbeeld kosblikke en klerasie) na die administratiewe kantore gestuur, waar dit in 'n houer geplaas en opgeëis kan word. 
  • Alle verlore goedere wat na 16:00 buite op die terrein of op stoepe opgetel word, sal in die skut opgeneem word om afgehaal te word teen 'n koste.  As dit na 'n tydperk nie opgeëis word nie, word dit in die klerebank opgeneem.

Speelgoed

  • Geen speelgoed mag skool toe gebring word nie, tensy 'n leerkrag dit spesifiek versoek.  Dit sal afgeneem en veilig bewaar word en aan die einde van die kwartaal aan die leerder terugbesorg word. 
  • Die skool aanvaar geen verantwoordelikheid vir speelgoed wat verlore raak nie.

Skooltye

  • Die skool begin stiptelik om 07:40.  'n Waarskuwingsklok lui om 07:35. 
  • Graad 1 en 2-leerders verdaag om 13:10 en graad 3 tot 7-leerders om 13:40.

Eerste pouse : 09:50 - 10:05

Tweede pouse : 12:05 - 12:20

Naskoolsentrum : 13:40 - 17:30

  • Aan die einde van die kwartaal sluit die skool om 11:00. 
  • Indien 'n leerder laat is, moet die betrokke leerkrag by wie die leerder op daardie stadium is, dit aanteken in sy huiswerkboek. 
  • Indien 'n leerder vroeg wil huis toe gaan, moet dit in die huiswerkboek aangeteken word en deur die hoof of adjunkhoof geteken word. 
  • Indien 'n leerder weens 'n spesifieke rede eers later die dag by die skool sal opdaag, moet die skool geskakel word, sodat reëlings getref kan word vir die invul van die register.  Dit word ook in die huiswerkboek aangeteken en die vakonderwyser moet daarby teken.
  • Voor skool moet leerders hulle tasse by die klaskamer gaan sit waar hulle die eerste periode gaan wees.

Ouers

  • Ouers mag nie leerkragte direk by die klaskamer besoek nie.  Alle afsprake moet deur die hoof geskied.  In dringende gevalle sal ouers skriftelik gemagtig word om 'n opvoeder by sy klas te spreek.
  • Indien u iets vir 'n leerder wil laat aflewer, kan u dit by die administratiewe kantoor inhandig.
  • Leerders se dokters- en tandartsafsprake moet so ver moontlik na skoolure ingepas word.  Indien 'n leerder wel gedurende skoolure 'n noodsaaklike afspraak het, moet die ouer dit vooraf met die hoof reël en die leerder persoonlik by die administratiewe kantoor kom afhaal.  Geen leerder word toegelaat om tydens skoolure huis toe te loop nie.  Bladsy 9 van die huiswerkboekie moet ingevul word en moet deur die hoof of adjunkhoof geteken word, voordat leerders die terrein kan verlaat.  Ouers moet ook die lêer by ontvangs teken.
  • Tref asseblief duidelike reëlings - onnodige oproepe en boodskappe vir leerders gedurende skooltyd bemoeilik die administratiewe personeel se taak.  'n Openbare telefoon is tot die leerders se beskikking.
  • Geen parkering word op die skoolterrein toegelaat nie.
  • Wees noukeurig met die lees van en terugstuur van briewe of kennisgewings.  Kontroleer gereeld die leerder se tas daarvoor. Nuusbriewe word in die huiswerkboek aangeteken. Ouers word versoek om daarby te teken.
  • Die hoof se deur staan oop indien u enige probleem persoonlik wil bespreek.  Maak asseblief vooraf 'n afspraak.

Skooldissipline

In die saal

  • Leerders tree vir saalopening aan soos met die leerders gereël.  Daarna word ordelik en in rye na die saal beweeg.
  • In die saal moet 'n gewyde atmosfeer heers en alles moet ordelik geskied.
  • Leerders moet netjies en regop staan wanneer die hoof en ander besoekers die saal binnekom en slegs gaan sit wanneer hulle meegedeel word om so te doen.
  • Elke leerder moet beide volkslied en skoollied sou gou as moontlik aanleer en ken.  Met die sing daarvan moet almal op aandag staan.
  • Leerders moet stil sit, nie gesels, speel of mekaar se aandag aftrek nie.  Daar moet aandagtig na afkondigings geluister word.
  • Die banke aan die kante van die saal word slegs deur leerkragte en die leerlingraad gebruik.

In die klaskamer

  • Leerders moet sorg dat die banke te alle tye netjies en skoon is.  Geen bank of stoel mag bekrap of beskadig word nie.
  • Papiere en rommel word in die klas se vullismandjie gegooi.
  • Daar mag nie in die klas geëet word, tensy 'n leerkrag spesiale toestemming verleen het nie.  Kougom word nie by die skool toegelaat nie.
  • Alle boeke moet te alle tye netjies oorgetrek wees met 'n naam daarop.
  • Wanneer leerders die klas binnekom, gaan sit hulle onmiddellik en haal hul boeke uit, waarna die leerkrag sal voortgaan.
  • Wanneer die hoof, 'n ander leerkrag of 'n besoeker die klas binnekom, gaan leerders onverpoos voort met hul werk.
  • Indien 'n leerkrag die klas moet verlaat, is die klasleier of aangewese leerder(s) verantwoordelik vir dissipline.  Ongehoorsame leerders moet gerapporteer word.
  • Boeke word slegs op bevel van 'n leerkrag weggepak en geen wanordelikheid mag heers wanneer die skoolklok lui nie.
  • Wanneer die leerders die klas verlaat, moet hulle eers staan en seker maak dat hulle stoele en tafels netjies en in posisie is.  Daarna word die leerkrag gegroet en verlaat die leerders die klas ordelik in 'n ry.
  • Geen leerder mag die klas verlaat sonder die leerkrag se toestemming nie.
  • Indien 'n leerder iets wil sê of vra, moet hy sy hand opsteek.  Geen uitroep sal geduld word nie.
  • Die skooldag moet met skriflesing en gebed begin.
  • Die einde van die skooldag word met gebed afgesluit.
  • Leerkragte word te alle tye vriendelik gegroet.
  • Vrystelling van Bybelonderrig moet skriftelik deur gewetensbeswaardes ingedien word.

Algemeen

  • Geen vandalisme, diefstal en opsetlike saakbeskadiging sal geduld word nie.
  • Leerders mag nie gelde in hul tasse of penneblikkies bêre nie.  Hou dit aan sy/haar persoon of laat dit veilig bêre.

Klaswisseling

  • Niemand word toegelaat om op die stoepe te hardloop nie.
  • Stilte moet tydens klaswisseling gehandhaaf word.
  • Geen rondlopery nie - leerders mag slegs in dringende gevalle die kleedkamers besoek.
  • Leerders moet ordentlik in rye, aan die linkerkant van die stoepe stap.
  • Leerders moet stil voor die klas wag totdat die leerkrag hulle inlaat.
  • Indien 'n leerkrag nie binne vyf minute opdaag nie, moet die klasleier 'n departementshoof of die adjunkhoof daarvan in kennis stel.

Pouse

  • Leerders se gedrag tydens pouses moet onberispelik wees.  Geen bakleiery of ongedissiplineerdheid sal geduld word nie.  Leerders mag ook nie items onder mekaar koop en/of verkoop nie.
  • Leerders moet die stoepe, parkeerarea, netbal- en tennisbane vermy.  Geen spelery word op of onder die pawiljoene toegelaat nie.
  • Slegs graad 1-leerders mag voor hulle klasse speel.
  • Leerders speel op terreine soos van tyd tot tyd deur die hoof en bestuur bepaal.
  • Geen leerder mag voor skool of gedurende pouse in 'n klaskamer wees, tensy onder toesig van 'n leerkrag nie.
  • Geen papiere of rommel mag rondgestrooi word nie en elke leerder moet verantwoordelikheid vir sy kosblik, trui, ensovoorts aanvaar.
  • Leerders mag nie gedurende pouse die skoolterrein verlaat of met persone buite die hekke of draad gesprekke aanknoop nie.
  • Gesag van die leiers wat diens doen, moet aanvaar word.
  • Toebroodjies moet in 'n houer of plastiese sakkie uitgeneem word en mag nie op die stoepe geëet word nie.  Geen koeldrank mag op die stoepe oopgemaak of gedrink word nie.

Kleedkamers

  • Higiëne en netheid is van die uiterste belang.  Elke leerder moet die kleedkamer skoon en netjies agterlaat na gebruik.
  • Junior leerders besoek die kleedkamers in groepe soos die leerkrag bepaal.
  • Gedurende pouse moet die leerders die kleedkamers gebruik, soos aan hulle toegewys.
  • Geen spelery of getalm word in die kleedkamers toegelaat nie.
  • Leiers moet toesig hou en dadelik die afwesigheid van toiletpapier, seep, ensovoorts aan die betrokke leerkrag rapporteer, sowel as die swak gedrag van leerders wat die kleedkamers gebruik.
  • Kleedkamers by die kleuterskool word tydens funksies slegs deur volwassenes gebruik.

Skolierpatrollie

  • Gehoorsaamheid aan die skolierpatrollie is uiters belangrik.
  • Verkeersreëlings en sperstrepe moet deur alle leerders, ouers en leerkragte eerbiedig word om almal se veiligheid te verseker.
  • Leerders mag nie by die hekke saamdrom of by die skolierpatrollie staan en gesels nie.

Afwesigheid

  • Indien 'n leerder afwesig was, of ouers weet dat 'n leerder afwesig gaan wees, moet hy by terugkeer 'n brief van sy ouers by die voogonderwyser inhandig.  Bladsy 10 van die huiswerkboekie moet deur die ouers geteken wees.
  • Indien 'n leerder meer as twee dae weens siekte afwesig was, moet 'n mediese sertifikaat ingehandig word.
  • Ander redes vir afwesigheid moet te alle tye met die hoof bespreek word en ook aan leerkragte oorgedra word.
  • Indien 'n leerder met 'n toets of eksamen afwesig is, moet die ouer die skool telefonies daarvan verwittig. 'n Mediese sertifikaat moet ook ingehandig word.  Die afneem van sulke toetse, moet met die spesifieke leerarea-onderwyser gereël word.  Leerders kan die toetse wat Vrydae nie geskryf is nie, slegs op Maandae skryf indien 'n doktersertifikaat ingehandig word, andersins word 'n punt bepaal op klaswerk alleen.

Terrein

Alle skoolreëls geld sodra die skoolterrein betree word, hetsy 'n skoolfunksie of privaat.

Verbode areas

  • Leerders mag nie in die tuinbeddings speel, loop of daaroor spring nie.
  • Geen leerders word voor skool of tydens pouse op die stoepe toegelaat nie, tensy hy net sy tas wil neersit.
  • Leerders mag nie die netbal- en tennisbane of krieketnette as algemene speelplek gebruik nie.
  • Geen leerder word in die voorportaal en personeelkamer toegelaat sonder toestemming nie.
  • Leerders mag nie om die administratieweblok, asook die saal speel nie.
  • Die twee turfkrieketblaaie mag nie betree word nie, behalwe tydens wedstryde.
  • Dit is ook verbode om by die fietsloods, die geplaveide wal en die grasperk voor dit te speel.
  • Kleuters en graad 1-leerders word slegs met die hoof se toesteming op die rugbyveld toegelaat.
  • Na skool word slegs die leerders verbonde aan die Naskoolsentrum asook afrigters, ondersteuners en deelnemers aan buitemuurse aktiwiteite op die skoolterrein toegelaat.
  • Muurtjies, afdakke, bome en walle is verbode speelplekke.
  • Geen leerders word in die houthuis (Okasie plasie) toegelaat nie.

Parkeerterrein

Slegs leerkragte mag op die skoolterrein parkeer soos onderling gereël.

Fietsloods

  • Fietse moet binne die skoolterrein gestoot word.
  • Fietse mag slegs in die fietsloods aan die oostekant gebêre word.
  • Elke fiets moet gesluit word met 'n stewige ketting en slot.  Leerders aanvaar self verantwoordelikheid vir hul sleutels.
  • 'n Gepeuter met fietse (byvoorbeeld bande beskadig of afblaas) word ten strengste verbied.
  • Geen leerder mag by die fietsloods wees tensy hy besig is om sy fiets te bêre of oop te sluit nie.

Buitemuurse aktiwiteite

Buitemuurse aktiwiteite is 'n verlengstuk van die klaskamer, dra by tot die opvoeding van die leerder en vorm 'n integrale deel van die skoolaktiwiteite.  Deelname hieraan word aanbeveel.

Sport

Algemeen

Deelname aan een of meer sportsoorte en die ondersteuning van die spanne of leerders wat deelneem, word aangemoedig.  Die regte gesindheid, entoesiasme, gehoorsaamheid en lojaliteit is baie belangrik.  Indien ' n leerder as gevolg van 'n fisiese rede nie kan oefen of wedstryde speel nie, moet 'n brief van die ouer by die afrigter ingehandig word.  Verskoning moet gemaak word indien 'n oefening nie bygewoon kan word nie.

Sport word direk na skool op Maandae, Dinsdae en Woensdae beoefen.  Donderdagmiddae word vir kultuuraktiwiteite benut.  Vrydagmiddae en Saterdagoggende kan sport beoefen word. 

Waardevolle artikels, tasse, sportsakke en geld kan by die afrigter vir bewaring ingehandig word.

Sportdrag

Oefening word in gewone oefendrag bygewoon, solank dit netjies en skoon is.  Tydens wedstryde moet elke leerder die korrekte skoolsportdrag aanhê.  Toerusting en ander klere word netjies in 'n sportsak gebêre.  Ons sal dit waardeer as al ons sportleerders 'n skoolsweetpak sal aanhê, veral as ons ander skole besoek.

Ander aktiwiteite (byvoorbeeld koor, konserte, ensovoorts)

  • Netjies en skoon gewone drag is by oefeninge toelaatbaar.
  • By optrede moet leerders die voorgeskrewe drag aanhê.
  • Oefeninge moet stiptelik nagekom en verskonings betyds aangeteken word indien 'n oefening of optrede nie bygewoon kan word nie.
  • Tref duidelike reëlings vir die op- en aflaai van leerders.  Leerders mag nie vir ure doelloos by die skool ronddrentel nie.
  • Randhart leerders se gedrag tydens optredes, konserte en ander soortgelyke aktiwiteite moet te alle tye onberispelik wees.

Kontak na buite

Besoekende skole/gaste

Daar moet te alle tye hoflik teenoor gaste en leerders, ouers of leerkragte van besoekende skole opgetree word.  Hulpvaardigheid en vriendelikheid teenoor alle besoekers is ons wagwoord.

Daar word absolute lojaliteit van ouers en leerders verwag.  Dit beteken ons los ons probleme onderling op en praat uit een mond na buite.

Selfone

  • As gevolg van wanpraktyke in die verlede asook ter beskerming van leerders is die volgende voorwaardes vir leerders met selfone ononderhandelbaar.
  •  
  • Alle gebruiksmoontlikhede van selfone word tydens klastyd asook pouses totaal verbied.
  • Die maak en ontvang van oproepe asook SMS-boodskappe kan voor die aanvang van die skooldag (07:40) en na skoolsluiting (13:10 vir graad 1 en 2 en 13:40 vir graad 4 tot 7) hanteer word.
  • Indien die selfoon wegraak of beskadig word by die skool, mag geen opvoeder of die skoolhoof daarby betrek word nie.
  • By oortreding sal die selfoon afgeneem en in die kluis bewaar word tot aan die einde van die spesifieke kwartaal.
  • Leerders wat weens siekte, besering of enige ander noodgeval huis toe moet gaan, word deur die skoolkantoor hanteer.  Die leerder word in die siekekamer opgeneem waarna die ouers deur die sekretaresse geskakel sal word.  Geen leerder hoef dus 'n ouer te skakel nie.
  • 'n Selfoonbeleid vir opvoeders bring mee dat die akademiese program op geen manier ontwrig kan word nie.

BEHEERLIGGAAM

Ouers word aangemoedig om, wanneer hulle dit nodig ag, enige saak wat die skool raak onder die aandag van die hoof en die beheerliggaam te bring.  'n Beheerliggaam word kragtens die wet en volgens bepaalde voorskrifte elke drie jaar verkies.  Dit word deur die distrikkantoor hanteer.

Portefeuljes

Sien onder opskrif Beheerliggaam (in "menu") die name van die beheerliggaamslede asook hul onderskeie portefeuljes.  U as ouer is welkom om hierdie lede te kontak, indien u voorstelle wil maak of 'n probleem wil bespreek.

Finansiële komitee

Die komitee word uit lede van die beheerliggaam en bestuur van die skool saamgestel.  'n Lid van die beheerliggaam tree as voorsitter van die finansiële komitee op.

Ander komitees

Elke lid van die beheerliggaam is verantwoordelik vir 'n portefeulje waarvan hy die voorsitter is. Ouers wat graag 'n inset wil lewer, kan direk met die betrokke beheerliggaamslid skakel.

Inligtingsaande

Aangesien die beheerliggaam die ouers van die skool verteenwoordig, word daar gereeld geleenthede vir kommunikasie geskep.  Inligtingsaande word van tyd tot tyd gehou om die ouers op hoogte van werksaamhede te hou.  Gedurende Oktobermaand keur die ouers die begroting vir die nuwe finansiële jaar op 'n algemene ouervergadering goed.

 

Copyright 2011 Randhart Laer. All Rights Reserved.
South African Web Design and Hosting by eConsultant.