Verrykingsentrum

 

Breinboelies

 

By Laerskool Randhart streef ons na akademiese uitnemendheid. Daarom glo ons aan gedifferensieerde ontwikkeling van elke leerder, sodat hulle tot hul volle potensiaal kan ontwikkel. Ons verrykingsentrum is dus vir ons ’n prioriteit, sodat leerders op akademiese gebied kan presteer en die geleentheid kry om blootgestel te word aan meer as net dit wat die onderrig- en leersituasie in die klaskamer bied.

 

Alle leerders in graad 4 tot 7 word kwartaalliks uitgenooi om die verrykingsentrum vir die kwartaal by te woon. Uitnodigings word saam met die rapporte aan die einde van elke kwartaal uitgegee. Die verrykingsentrum strek oor vier weke gedurende die daaropvolgende kwartaal op Dinsdagaande:

Graad 4 en 5 – 18:00 – 19:00

Graad 6 en 7 – 19:00 – 20:00

 

Gedurende die vierde kwartaal word ’n aantal graad 3-leerders ook na die verrykingsentrum genooi, sodat hulle ’n voorsmakie kan kry van dit wat die volgende jaar op hulle wag. Indien enige ander graad 3-ouer die behoefte het dat hulle kind ook betrokke moet wees, is hulle welkom om die Kurrikulumhoof te skakel – ons maak graag plek vir alle belangstellende leerders. Gedurende hierdie kwartaal strek die verrykingsentrum net oor twee weke, aangesien ons graad 4 tot 7-leerders dan moet begin voorberei vir die eindeksamen.

 

Die verrykingsentrumklasse word deur kenners aangebied en vakke soos Fisiologie, Plantkunde, Chemie, Geografie, ens. vorm deel van die kurrikulum. Temas soos disseksie van hoenderharte en beesniere, klassifikasie van blomme, kaartwerk, sterrekunde, noodhulp en vele meer word gedek.

 

’n Skeurstrokie moet voltooi word en binne die eerste week van die nuwe kwartaal terug gestuur word aan die Kurrikulumhoof, sodat ’n leerder se plek gereserveer kan word. Ongelukkig kan slegs 60 leerders per sessie geakkommodeer word.

 

By Laerskool Randhart spoor die verrykingsentrum die leerders aan om ook op akademiese gebied te streef na uitnemendheid net soos wat die geval is op sport- en kultuurgebied.

 

Deur ons verrykingsentrum wil ons die akademiese presteerders beloon vir hulle harde werk, deursettingsvermoë, ywer en strewe na sukses.

 

Aan die hoof van die verrykingsentrum staan me. I K Kichenbrand (Kurrikulumhoof).

Copyright 2011 Randhart Laer. All Rights Reserved.
South African Web Design and Hosting by eConsultant.